2024 Merk Wicus se 20 jaar in hierdie bedryf!

20 Jaar gelede het ’n ietwat jonger en effens onseker outjie met ’n vonkel in die oog die vermaakwêreld betree. Met sy eerste musiek treffer ‘Hie komme ding’ het hy met sy eiesoortige humor harte in die gehoor gewen. 

Die gogga het gebyt en sedertdien toer Wicus die land plat, met een doel voor oë – om mense te laat lag en te laat ontspan en vir ’n wyle van hul bekommernisse te laat vergeet.

Met 7 albums waarvan verskeie goue status bereik, het Wicus SAMA benoemings, ’n Ghoema toekening, ’n Tempo toekenning en verskeie ander toekennings ontvang. Dan het hy nog bo-op dit alles sy lyf al akteur gehou en is hy ’n gesogte aanbieder en gas op van die land se gewilde leefstyl en geselsprogramme. Wicus kuier gereeld by gehore in Namibië en sy optredes wat musiek en stories verweef, trek selfs so ver as New Zeeland, Kanada en Australië. 

As gewilde seremonimeester by die land se voorste musiekfeeste is Wicus ook ’n gesogte afslaer vir groot fondsinsamelingsgeleenthede waar hy op humoristiese wyse gaste vermaak.

Die man agter die lawwighede is ’n entoesiastiese hengelaar, lief vir mense en vir die see en geniet stilte net soveel hy genot daaruit put om mense skrik te maak. Sy gunsteling beroep as jy hom sou vra? ‘Professionele skrikmaker’!

Kom geniet saam met Wicus die stories, liedjies en lekker lag wat hy al vir 20 jaar lank bymekaar maak!